By Hanlie Stadler
Net mooi niemand is tevrede met die tesourie se besluit om nog twee maande lank ’n laer brandstofheffing vol te hou nie.
Aan die een kant word die ingryping as ’n onbenullige “byvertoning” beskou om die aandag
van die steeds enorme styging in brandstofpryse af te trek. Aan die ander kant word dit as fiskaal “ongesond” beskryf.
Die besluit om die algemene brandstofheffing in Junie met R1,50 per liter en in Julie met 75c
te verminder, bring slegs ’n klein bietjie verligting vir motoriste en ondernemings. Petrol
word steeds oornag tot R2,43 per liter duurder en diesel tot R1,10 per liter.
Impak op verbruikers
Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, is “diep bekommerd” dat die skerp
styging in brandstofpryse afstuur op maatskaplike onrus soos dit ’n “vloedgolf” van
prysstygings meebring en werkloosheid en armoede vererger.
Roodt sê die styging van brandstofpryse gaan deurvloei na alle ander pryse omdat produkte
padlangs vervoer word – en kospryse op hul eie ook skerp styg.
Hoewel daar selfs voor Rusland se inval in Oekraïne kommer oor inflasie was, het die oorlog die styging in inflasie wêreldwyd versnel. Daar word gevrees dat inflasie vanjaar in Suid-Afrika by 8% gaan draai.
Neil Roets, uitvoerende hoof van die skuldberadingsfirma Debt Rescue, sê Junie se skerp
stygings is ’n katastrofe vir almal: “Die implikasies sal deursyfer na elke aspek van ons lewe.”
Dit gaan ’n impak hê op “elke liewe item wat na en oor die hele Suid-Afrika heen vervoer
word”, sê Gavin Kelly, uitvoerende hoof van die Padvragvereniging.
Die Automobiel-Assosiasie (AA) sê in ’n verklaring hoewel mense sekerlik dankbaar is vir die
R1,50-verligting, beteken die rekordhoë brandstofpryse dat verbruikers geen keuse het as
om hul gordel baie styf in te trek nie.
Al wat oorbly, is dat die regering, nes die res van Suid-Afrika, sy gordel moet intrek. Die
beste plek om te begin, is die groot aantal staatsdepartemente wat nie ’n sigbare verskil
maak nie.
Dr. Wynand Boshoff van die VF Plus
“Ons gee toe dat die regering beperkte opsies het om ’n krisis wat baie lande wêreldwyd en
nie net Suid-Afrika raak nie op te los.
“Die tydelike verligting is presies dít: tydelik. Nou is dit duidelik dat die regering meer
blywende oplossings moet vind om versagting teen stygende brandstofkoste te vind.
“Die regering moet nou ’n hersiening van die brandstofprys begin: Om alle elemente te
ontleed waaruit ’n ligter brandstof saamgestel is, om hul voortgesette relevansie te bepaal,
en te bepaal of die berekeninge wat gebruik word, nog reg is.
“So ’n hersiening moes al lankal gedoen gewees het, en hoe langer die regering die proses
vertraag, hoe langer sal dit duur om volhoubare oplossings te kry.”
Brandstofheffing
Roodt is onder ’n minderheid kommentators wat meen die pleidooie dat die
brandstofheffing heeltemal geskrap word, misplaas is. “Alle belasting is sleg, maar dié
belasting is minder sleg as ander. Die werklike probleem is staatsbesteding wat in bedwang
gebring moet word.”
Dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se woordvoerder oor energie, beaam dit: “Al wat oorbly, is
dat die regering, nes die res van Suid-Afrika, sy gordel moet intrek.
“Die beste plek om te begin, is die groot aantal staatsdepartemente wat nie ’n sigbare
verskil maak nie. Die departemente vir kleinsakeontwikkeling, vroue, kinders en mense met
gestremdhede en sport, kuns en kultuur voeg tans min waarde toe, maar kos die staat
gesamentlik bykans R10 miljard per jaar.
“Indien onproduktiewe departemente afgeskaf en korrupsie doeltreffend bekamp word, sal
die staat minder afhanklik van die meer as R80 miljard per jaar wees wat die
brandstofheffing tans bydra.”
Boshoff sê Suid-Afrika het die stadium bereik dat laer belastingkoerse moontlik hoër
inkomste kan meebring.
Kevin Mileham, DA-woordvoerder oor energie, sê die verlengde verligting “wys hoe
absoluut buigsaam, onnodig en misbruikbaar die brandstofheffing is. Dis ook nie veel meer
as ’n byvertoning nie, bedoel om die aandag van die grootste styging in brandstofpryse in
die geskiedenis af te lei.”
Die DA het verlede week ’n veldtog van stapel gestuur om die heffing heeltemal te skrap en
om brandstofpryse te reguleer.
Hoe dit gefinansier word
Die tesourie het in ’n verklaring gesê die verligting gaan die fiskus nóg R4,5 miljard kos,
teenoor die sowat R6 miljard vir April en Mei. April en Mei se verligting is deur die verkoop
van strategiese brandstofvoorraad gefinansier.
Volgens die tesourie sal die verlenging ’n “impak op die fiskale raamwerk hê”, aangesien dit
nie ten volle deur die verkoop van strategiese brandstofvoorraad gefinansier kan word nie.
Die land se begroting gaan dus aangepas moet word, en besonderhede gaan in Oktober se
mediumtermynbegrotingsraamwerk aangekondig word.
Roodt vermoed dat die regering gaan staatmaak op die sogenaamde hulpbronmeevaller –
hoër inkomstebelasting uit maatskappye wat danksy hoër hulpbronpryse steeds meer wins
maak.
Prof. Jannie Rossouw, ekonoom verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand se
sakeskool, beskou die stap as “ondeurdag” en “ongesonde praktyk”: “Dis baie negatief om
fiskale beleid in die hardloop aan te pas.”
Rossouw sê dit skep ’n gevaarlike presedent van ingryping in pryse wat deur markte bepaal
word.
Res van die jaar
Junie se stygings is nog lank nie die einde van die pyn vir plaaslike en internasionale
motoriste nie. So lank as wat pres. Wladimir Poetin van Rusland met die oorlog voortgaan,
sal oliepryse styg, meen Rossouw.
Roodt is wel optimisties dat dinge oor ’n jaar heelwat beter sal lyk. Die prys van Brent-ruolie
kan dalk tot so laag as $60 per vat terugval, of minstens tot sowat $100. Dit is teenoor die
$124 per vat wat Dinsdag getref is.
Roodt grond sy raming daarop dat hy reken die wêreld sal alternatiewe oliebronne as
Rusland vind. Ander olieproduserende lande, soos Venezuela of selfs Iran, sal dalk hul
produksie verhoog. Daarby behoort markte te stabiliseer indien die oorlog in Oekraïne nie
eskaleer nie.