Hoë lewenskoste en skuld:Salaristrekkers kreun onder druk


Deur Arisa Schamrel

Die perfekte storm heers tans vir Suid-Afrikaanse salaristrekkers, en daar is onsekerheid oor
of die donker wolke vinnig gaan plek maak vir ’n ligstraal, of nie.

Salaristrekkers is onder druk weens hoë inflasie en rentekoerse. Die hoë lewenskoste dwing
hulle om skuld te maak, maar die paaiemente raak net al hoe groter.

Neil Roets, uitvoerende hoof van Debt Rescue, sê dit lyk ongelukkig nie asof daar op kort- of
mediumtermyn noemenswaardige finansiële verligting voorlê nie.

“Die realiteit is ongelukkig nie baie positief in dié stadium nie. Ons het twee
agtereenvolgende maande gehad waarin inflasie weer eens besig is om te styg, wat nie
goeie nuus vir die rentekoersvooruitsig is nie.

“Internasionaal het die VSA weer hul rentekoerse met 25 basispunte opgestoot, en dit was
die tiende keer in 14 maande dat die koerse verhoog is.

“Volgens die terugvoering van die Reserwebank met die laaste vergadering, is dit belangrik
dat ons rentekoerse mededingend moet wees op internasionale vlak, en in die meeste van
die vorige gevalle waar die VSA hul rentekoerse verhoog het, het die Suid-Afrikaanse
Reserwebank dieselfde gedoen,” sê Roets.

Hy meen die hoë rentekoers saam met verhogings in kragtariewe en brandstofkoste sowel
as druk op ondernemings se produktiwiteit weens die voortslepende beurtkrag, voorspel
niks goed vir Suid-Afrikaners se geldsake nie.

Christie Viljoen, senior ekonoom by PwC, sê egter hulle verwag dat die repokoers met ten
minste 25 basispunte sal klim in Mei, en dat dit dan heel moontlik die einde van die
opwaartse siklus sal wees. “Inflasie sal stadig maar seker afwaarts beweeg in die komende
maande en behoort teen die einde van die jaar rondom die 5%-vlak te wees,” sê Viljoen.

Meer uitgawes, minder geld

Die nuwe brandstofpryse vir Mei is verlede week bekend gemaak. Alle grade van petrol het
met 37c per liter duurder geword, maar die prys van diesel het met 48c en 74c per liter
gedaal.

Kragtariewe het in April met 18,65% opgegaan.

BankservAfrica se nuutste indeks van besteebare inkomste, wat op 26 April uitgereik is, wys
die gemiddelde maandelikse inkomste wat Suid-Afrikaners ná aftrekkings huis toe neem, is
R15 321. In Februarie was dit R15 186 en in Januarie R14 305.

“Met inflasie wat vir langer hoog bly as waarvoor gehoop is en min aanduiding van ’n beter
ekonomiese omgewing vanjaar, sal salarisaanpassings en die arbeidsmark waarskynlik
hierdie jaar flou bly,” sê Elize Kruger, ’n onafhanklike ekonoom, in BankservAfrica se
verklaring.

Roets sê volgens statistieke is dit duidelik dat salarisse nie byhou met inflasie nie. Die
verwagte verhogings vir die jaar is 4% tot 6%, wat staatsinstellings insluit, aldus ’n peiling
deur die mensehulpbronnenavorsingsfirma Remchannel, ’n filiaal van Old Multual.

“Met algehele inflasie op 7,1% in Maart, en voedselinflasie op 14%, beteken dit dat daar
meer druk gaan wees op salaristrekkers.

“Baie Suid Afrikaners het skuld op items soos verbande en voertuigfinansiering, sowel as
kredietkaarte. Daar is ’n definitiewe toename in lenings. Dit word meer en meer gereeld
gesien dat Suid Afrikaners hulle letterlik wend na krediet om kos op die tafel te sit,” sê
Roets.

Almal kry swaar

Dis ook nie net die middel- of hoërinkomsteverbruikers wat sukkel om kop bo water te hou
nie.

Slegs een persoon het ’n werk in die meeste swart Suid-Afrikaanse huishoudings, aldus die
Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity Group (PMBEJD). Dié persoon verdien
waarskynlik ’n minimum loon en moet ’n gemiddeld van vier mense onderhou.

In die beste moontlike scenario (as die persoon sewe dae ’n week vir agt uur per dag werk),
kry hy ’n salaris van R3 457,12. Dit is reeds minder as wat ’n kosmandjie met die basiese
kossoorte kos.

As vervoerkoste (sowat R1 224,00), koopkrag (R787,50) en ander uitgawes soos huur en
skoolgeld (R1 445,62) bygereken word, het dié persoon ’n tekort aan inkomste van R2053,97. Die tekort kan tot so hoog as R3 460,59 per maand styg.

Aldus FinScope se 2022-opname, ’n verteenwoordigende opname onder meer as 5 000
mense, het 23% van Suid-Afrikaners in huishoudings wat minder as R10 000 per maand
verdien gesê om kos te kan koop is die hoofrede waarom hulle geld leen. Potensieel
beteken dit byna 6,5 miljoen volwasse Suid-Afrikaners moet geld leen om hul gesinne te
voed.

Like

Like
Love
Haha
Wow
Sad
Angry



Source link