Min geld knyp al hoe meer al hoe harder


By Riana de Lange

In ’n poging om die druk op die ekonomie en verbruikers te verlig, het die regering aangekondig die algemene brandstofheffing sal van 6 April tot 31 Mei R1,50 per liter laer wees.

Sowat 87% van Suid-Afrikaners sê in ’n nuwe peiling hulle is finansieel in die knyp; 13% van dié verbruikers bevind hulle “in ’n krisis” en 32% sukkel om hul maandelikse verpligtings na te kom.

Selfs ryker huishoudings – dié met ’n inkomste van meer as R500 000 per jaar – trek swaar; net 28% sê hulle is in ’n goeie of baie goeie situasie. Meer as 70% van verbruikers sê hulle sukkel meer as ’n jaar gelede, blyk uit ’n verslag van McKinsey & Company.

Neil Roets, uitvoerende hoof van Debt Rescue, sê tot 30 miljoen verbruikers se geld is voor maandeinde op. Dit laat hulle kwesbaar omdat hulle nie genoeg voedsame kos kan koop nie.

Salaris vroeër onttrek

Simon Ward, stigter en uitvoerende hoof van Floatpays, ’n finansiële-diensteverskaffer met ’n produk wat werknemers voor betaaldag toegang gee tot ’n deel van hul salaris, sê die McKinsey-verslag toon mense in alle inkomstegroepe word geraak.

Triya Govender, bemarkingshoof van Floatpays, sê hul diens bring fintech en mensehulpbronbestuur bymekaar.

Werkers wie se geld in die middel van die maand op is of wat skielik onvoorsiene uitgawes het, wend hulle dikwels tot mikroleners of baie duur skuld soos persoonlike lenings of winkelkaarte om noodsaaklikhede te kan koop.

Deur werknemers voor betaaldag toegang te gee tot ’n deel van dit wat hulle reeds verdien het, bly hulle uit die kloue van mikroleners en dit keer dat hul skulddienskoste by dié soort leners elke maand ’n al hoe groter deel van hul salaris opvreet, aldus Govender.

Sy sê sommige werkers betaal elke maand tussen 41% en 100% van hul salaris aan skuld.

Werkgewers stel ’n perk aan hoeveel van die verdiende geld onttrek mag word en dis meestal sowat 25%.

Volgens Govender het die gemiddelde waarde van salaris-onttrekkings voor betaaldag tussen April 2021 en Maart 2022 viervoudig toegeneem. Dit is ook omdat meer werkers van die diens gebruik maak. Tussen 35% en 50% van die werkers wat ingeteken is op die app gebruik die diens om ’n deel van hul betaling voor betaaldag te onttrek, sê Govender.

Stygende kos- en brandstofpryse, stygende inflasie en hoër rentekoerse maak verbruikers se lewe moeilik. Roets sê met die prima uitleenkoers op 7,75% en nog verhogings van 125 basispunte wat tot einde 2023 verwag word, word die las op verbruikers al hoe swaarder.

Al hoe meer mense koop kos en petrol met krediet- of winkelkaarte. Dit is duur krediet vir noodsaaklikhede.

Hy maan verbruikers wat in ’n skuldstrik is om raad by geregistreerde skuldberaders te kry.

Kenners is ook bekommerd oor inflasie wat wêreldwyd styg en geld se koopkrag wegvreet.

Verwagtinge vir inflasie

PwC sê in sy jongste ekonomiese vooruitsig volgens sy basislyn-aanname kan inflasie vanjaar tot 5,2% styg. As ongunstige internasionale marktoestande tot diep in die tweede helfte van 2022 voortduur kan die gemiddelde inflasiekoers so hoog soos 5,9% wees.

In ’n uiters neerdrukkende hipotetiese scenario – hoewel nie onmoontlik nie – kan voedselinflasie tot 10% op ’n jaargrondslag styg (teenoor 6,7% in Februarie) en vervoerinflasie tot 20% (14,3% in Februarie) vir ’n tydperk van vier tot ses maande. Dít sal beteken oorkoepelende inflasie kan in die tweede helfte van die jaar 1,5 persentasiepunte hoër wees as die basislyn-aanname en dus deur die 6%-perk breek wat die Reserwebank as die bopunt van die inflasieband stel.

PwC sê hoër kos-, brandstof- en elektrisiteitspryse sal alle huishoudings sleg raak, maar die uitwerking verskil volgens bestedingspatrone binne inkomstekategorieë.

In armer huishoudings, wat tot R33 619 per jaar bestee, gaan meer as 50% van die totale besteding aan kos soos brood en mieliemeel en nie-alkoholiese drinkgoed. Dié huishoudings bestee sowat 2% aan vervoer (insluitende brandstof, die koop van voertuie en openbare vervoer), tussen 13% en 16% aan huisvesting en nutsdienste en sowat 8% aan klere en skoene.

In welvarende huishoudings (wat volgens Statistieke Suid-Afrika meer as R199 921 per jaar bestee) gaan sowat 13% aan kos en nie-alkoholiese drinkgoed, en tussen 14% en 22% aan vervoer.

Sowat 20% van hul besteding is vir diverse goedere en dienste en byna 16% vir huisvesting en nutsdienste, sê PwC.

’n Effense troos is die tydelike verligting in die brandstofprys wat die regering die afgelope week aangekondig het om motoriste in ’n mate te beskerm teen die olieprys wat opskiet weens die oorlog in Oekraïne.

Enoch Godongwana, minister van finansies, het gesê die algemene brandstofheffing sal van 6 April tot 31 Mei R1,50 per liter laer wees. Dit verminder die gemiddelde heffing op die brandstofprys van R3,85 per liter tot R2,35 per liter, en vir diesel van R3,70 tot R2,20 per liter.

Volgens die Pietermaritzburg Economic Justice & Dignity (PMBEJD)-groep wys sy indeks vir huishoudelike bekostigbaarheid die gemiddelde kosmandjie het in Maart net meer as R4 450 gekos. Dít is 2,2% hoër op ’n maandgrondslag en 10,2% hoër op ’n jaargrondslag.

Kospryse het oor die land heen gestyg, met aansienlike verhogings in die prys van koekmeel, kookolie, tee, brood en eiers.

Mieliemeel, rys en witsuiker was ook duurder.

Die PMBEJD sê ook die volle uitwerking van die oorlog moet nog deursyfer.



Source link