By Hanlie Stadler
Dis tyd om twee keer te dink voordat jy ’n cappuccino met jou kredietkaart koop of selfs op jou kaart petrol ingooi.
“Ons gaan almal ons leefstyl moet aanpas om uit te kom met wat ons het,” waarsku Neil Roets, uitvoerende hoof van die skuldberadingsfirma Debt Rescue, in die lig van die skerp styging wat in brandstofpryse verwag word.
Roets sê dis ’n gegewe dat dinge vir verbruikers reeds baie moeilik is op die oomblik en net gaan vererger as petrol in April met meer as R2 per liter duurder word, soos dinge nou lyk. Kospryse gaan na verwagting óók skerp styg – alles weens die Russiese inval in Oekraïne, waar die oorlog al twee weke lank woed.
Roets moedig verbruikers aan om proaktief te wees eerder as om die uitwerking van stygende koste te probeer ignoreer. Om al hoe meer inkopies op jou krediet- of winkelkaart te doen, is nie die antwoord nie – “dis die begin van ’n donker dalende spiraal”, sê Roets.
“Dit maak nie saak hóé moeilik dit word om die huishouding se begroting te laat klop nie, om lewenskoste met skuld te betaal, is ’n resep vir ’n ramp – dis soos om ’n gat te grawe waaruit jy nooit kan klim nie.”
Selfs mense met ’n goeie werk en stabiele inkomste kan oorweldig raak deur skuld as hulle nie hul leefstyl aanpas nie.
Sy advies is dat mense weer ’n kritiese oog op hul begroting gooi.
“Kyk na jou bankstaat en bepaal wat jou maandelikse uitgawes is. Daar is vaste uitgawes (jou huis- en motorpaaiement, skoolgeld en so meer) en wisselende uitgawes. Baie van die wisselende uitgawes is dinge waarvoor jy jou kaart gebruik sonder om twee keer te dink.”
Hy sê selfs met noodsaaklike uitgawes, soos vir krag en kos, is daar baie dinge wat ’n mens kan doen om geld te bespaar – en ’n klomp klein veranderinge kan stewig optel. “Daar is slim maniere om uitgawes te besnoei as jy ’n bietjie kreatief raak.”
Hy sê klein dinge soos om nie ligte in ’n vertrek aan te vergeet nie en om tydskakelaars op geisers te installeer kan honderde rand per maand bespaar.
“As jy ’n eiendom met ’n klein stukkie grond het, kan jy ’n groentetuin begin. Plant byvoorbeeld tamaties, blaarslaai en spinasie.”
Roets sê dis beslis ’n goeie plan om spesiale aanbiedinge dop te hou, maar dit help ook nie jy ry van winkel tot winkel daarvoor nie. “ ’n Eenvoudige, maar doeltreffende wenk is om na net een plek te reis om inkopies te doen en dan grootmaat te koop om geld én brandstof te bespaar.”
Lojaliteitskaarte word ook al hoe belangriker en kan ’n groot verskil aan jou begroting maak.
Onthou, jy mag opgaar
Daar is in dié stadium niks wat motoriste keer om brandstof op te gaar voor die verwagte skerp styging op 6 April nie.
Die departement van energie het aan Netwerk24 bevestig die regulasie wat mense verbied om brandstof in houers by vulstasies te gaan koop, is teruggetrek.
Die terugtrekking daarvan is egter eers op 25 Februarie vanjaar in die Staatskoerant gedoen.
Die regulasie is op 16 Julie 2021 afgekondig. Dis gedoen om paniekaankope van brandstof te ontmoedig.
Daar was vrese vir ’n brandstoftekort weens die onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng, wat die sluiting van die Durban-hawe en van raffinaderye genoodsaak het. Vervoerroetes is ook ontwrig.
Die regulasie het groot konsternasie veroorsaak omdat dit tegnies ook die verkoop van brandstof aan ondernemings wat dit vir kragopwekkers, grassnyers of ander toerusting benodig het, verbied het. Dis egter toe aangepas om net verkope in houers wat nie vir dié doel goedgekeur is nie, te verbied.
Die departement verduidelik nie waarom die regulasie eers twee weke gelede opgeskort is
nie.